2024 KERSBOODSKAP DEUR KAAPJAG SE PRESIDENT, JOHAN STRAUSS

Soos gepubliseer in die Desember 2024 Uitgawe van WILDLAND (bladsy 118)

Aan al KAAPJAG se lede en al die lesers van hierdie wêreldklastydskrif, my allerbeste wense en seën vir die Kersgety wat voor die deur lê.  Mag elke jagter, sportskut en vuurwapeneienaar in ons mooi land, in hierdie tyd ervaar dat ons saamgebind word deur ons gemeenskaplike belangstelling, ongeag ons affiliasie.

Mag elkeen van u en u geliefdes, die wonder van die Christusfees beleef tydens die welkome ruskans wat ons tegemoet gaan. Mag u veilig wees en ‘n baie voorspoedige nuwe jaar beleef. My wens is dat ons ten spyte van die uitdagings, sal kan voortgaan om ongehinderd ons belangstelling uit te leef, of dit jag en of dit skiet is.

2024 Kersboodskap deur Kaapjag se President, Johann Strauss

Met die onlangse herdenking van KAAPJAG se 40ste bestaansjaar, het ek weereens besef dat die stigterslede van ons vereniging, werklik besondere insig geopenbaar het. Hulle het ongetwyfeld die “groter” prentjie gesien toe hulle soveel jare gelede hierdie vereniging in die lewe geroep het. Ek weet hul doel was net om die saak te dien en nie hul eie belange nie. En so was dit ook vir elke ander jag-, sportskiet- of vuurwapenvereniging in Suid-Afrika, sommige wat al veel ouer is as KAAPJAG. My wens is, dat ons in die gees van die manne en vroue wat bygedra het tot die ontstaan en voortbestaan van ons onderskeie organisasies of liggame, gefokus die saak sal dien en dit eensgesind sal doen.

Laat ons elkeen besef dat die bedreiging van ons vryhede eg is en dat ons nie sal oorleef deur te fokus op ons eie eng belange nie. Dien die industrie se belange deur jou organisasie te ondersteun – die werk wat hul moet doen vereis jou voortgesette steun!

Baie dankie aan elkeen wat agter die skerms werk om ons vryhede te beskerm.

Geniet die feestyd saam met jul familie en vriende.

Seëngroete,

Johann Strauss

ENQUIRIES

Please contact us with any queries you may have.

back to blogs