KAAPJAG TAK-KOLLIG: KOUP

 Sutherland, Laingsburg, Merweville, Prince Albert, Ladismith, Leeu-Gamka, Beaufort-Wes

Voorsitter: Jacobus Nel

 

Jacobus Nel

Jacobus is 'n boorling van die ou Groot Karoo. Hierdie wêreld is in sy bloed, net soos skiet en jag ook deel vorm van sy wese. Jacobus se blootstelling aan jag is reeds op 16 jarige ouderdom daargestel toe 'n familievriend, wyle Oom Flip Botma, hom op sy eerste springbokjagtog vergesel het. Jacobus se voorkeur vir die .243 -geweer was tydens hierdie gebeurtenis gevestig, maar sy belangstelling in gewere en skiet het werklik beslag gekry toe sy pa en wyle Oom Flip in 2001 so saam-saam begin herlaai het en hom daarby betrek het. Die gogga het gebyt en Jacobus se arsenaal is spoedig met nog ‘n .22-250 en .308 uitgebrei. Jacobus is ‘n kranige skut en kan sy man behoorlik staan wanneer ‘n papierteiken of ongedierte in sy visier beland.  

Jacobus was in Laingsburg skoolgaande en het homself ook as ‘n kranige rugbyspeler tydens sy skoolloopbaan onderskei. Na skool het hy vir 4 jaar lank homself aan die gewoel van die stadswêreld oorgegee terwyl hy hom ook vir sy loopbaan bekwaam het. Hy sou vir 10 jaar lank op Laingsburg werksaam wees voordat hy voltyds begin boer het. Jacobus verbou nou uiesaad vir die Europese mark, benewens ‘n veeboerdery wat ook deurlopend sy aandag verg. 

Waarna lede kan uitsien 

Dit is nie moontlik om oor die Koup-tak te praat sonder om die Nel-familie by die gesprek in te sluit nie. Jacobus en sy pa, Koos en ma, Ilze is verseker die gom wat hierdie tak bymekaar hou.

 

Hul opoffering om ‘n standplaas en skietbaan vir die tak te bied, en ten spyte van verskeie uitdagings die voortbestaan van die tak te verseker, is prysenswaardig!

Hierdie is weliswaar die kleinste Kaapjagtak, maar is ongetwyfeld die een met die meeste guts gegewe die uitdagings waarmee hulle te make het: van baie lang afstande om by byeenkomste te kan uitkom tot die droogte, wat hierdie gebied oor ‘n periode van agt jaar behoorlik geteister het!

Ten spyte van hierdie uitdagings bly die bestuur en lede toegewyd tot die tak se voortbestaan en is hul gasvryheid, groothartigheid en blymoedigheid, 'n voorbeeld vir die van ons wat veel minder uitdagings ervaar.



Die Koup-tak bied jaarliks die volgende CHASA skietgeleenthede aan sy lede:

⨠ Vlakteskiet

⨠ Senterslag-baanskiet

⨠ Randslag-baanskiet  

Die Randslag-baanskiet, is 'n spesiale geleentheid waar lede na afsloop van die skiet onder die groot doringboom op Sandpoort byeenkom en saam kuier en braai. Hierdie byeenkoms is gewoonlik die afsluiting van die jaar se aktiwiteite en dit is hier waar die lede hul onderlinge band herbevestig en stories uitruil.  

Benewens die bogenoemde byeenkomste, is Koup Tak vanjaar die gasheer van KAAPJAG se Algemene Jaarvergadering en die Intertak Ghongskiet. Hierdie geleentheid vind op 20 April 2024 by Matjiesfontein se Lord Milner Hotel plaas. Dit beloof om 'n spesiale en onvergeetlike geleentheid te wees, aangesien dit te same met KAAPJAG se 40ste herdenking gevier word.
Ons gaan die oggend eers die Intertak Ghongskiet op Viskuil-plaas naby Laingsburg bywoon en daarna terugkeer na Matjiesfontein waar die Algemene Jaarvergadering die namiddag plaasvind, gevolg deur die dinee en 40-jaar-viering die aand onder die ryk sterrehemel van die Karoo. Ons hoop om u daar te sien en vra dat u hierdie datum in u kalender sal oophou!

Besoek gerus ons kalender om hierdie tak se komende skietgeleenthede te besigtig. 

Vasbyters

Die Koup-tak se gebied sluit die volgende dorpe in: Sutherland, Laingsburg, Merweville, Prince Albert, Ladismith, Leeu-Gamka en selfs so ver as Beaufort-Wes.

Dit is dus nie vreemd vir 'n lid om meer as 200 kilometer te moet reis om 'n byeenkoms by te woon en weer tuis te kom nie.

Die tak se skietbaan is op die plaas Sandpoort, wat ongeveer 61km noord van Laingsburg langs die N1 geleë is. Die lede van hierdie streek verdien ongetwyfeld die benaming van “Vasbyters”! Kaapjag is trots op ons verbintenis met hierdie streek en sy mense.

Lidmaatskap

Indien u in die gebiede van Sutherland, Laingsburg, Merweville, Prince Albert, Ladismith, Leeu-Gamka en selfs so ver as Beaufort-Wes woonagtig is, sal u outomaties met die Koup-tak verbint word ten tye van u suksesvolle lidmaatskapaansoek.

ENQUIRIES

Please contact us with any queries you may have.

back to blogs